Sunday, December 13, 2009

naggebed

God is goed. Hierdie is die fondasie van ons geloof. Keer terug hierheen as die lewe sy donker oor jou gooi. As jy jou teologie moet opsom met drie woorde, laat dit hierdie drie woorde wees. Gaan stoei met woorde soos “almag” en “alwetendheid” en “boosheid”. Soek verklarings vir die skeefloop van dinge, maar as dit daarop neerkom dat jy hierdie drie woorde van jou teologie moet verander, gaan soek weer.

naggebed

ek glo dat U God is oor die lig en die nag

ek glo dat U God is oor die donker en die dag

U is

en daar is nêrens waar U nie is nie

geen diepte kan U uithou nie

geen donker kan U weghou nie

orals waar daar plek of ruimte is

en orals waar U is, is U God

en orals waar U is, is dit reg

en orals waar U is, is dit goed

as ek nie kan sien nie

as ek nie kan hoor nie

as ek nie verstaan nie

wees by my

ek glo dat U God is oor die engel en die stof

ek glo dat U God is oor my klagte en my lof

U is

en daar is nêrens waar U nie is nie

geen swakheid kan U uithou nie

geen skande kan U weghou nie

orals waar ek boos of heilig is

en orals waar U is, is U God

en orals waar U is, is dit reg

en orals waar U is, is dit goed

as vrae onbeantwoord bly

as deure ongeopen bly

en dinge word te veel vir my

wees by my

want orals waar U is, is U God

en orals waar U is, is dit reg

en orals waar U is, is dit goed

in die nag

wanneer ek nie weet nie

sal ek weet

U weet

U hoor

U sien

U is

en daarom

is daar lig

ook in die nag

No comments:

Post a Comment