Thursday, December 10, 2009

kommentaar oor 'n oppervlakkige samelewing en kerk

Die koue rillings toe ek my seun se oë sien, sal ek nooit vergeet nie. Sy vraende uitroep. Pappa dit kan mos nie reg wees nie. Die TV evangelis se woorde: Gee nou. Gebruik jou kredietkaart. God gaan jou 'n deurbraak van miljoene gee. En die engele het gehuil.

strate van goud

die mense jaag in dolheid

om na rustigheid te spoed

waar dit leeg is soek almal volheid

en dit raas soos ons stilte soek

en ek wonder waar dit alles heengaan

want dit lyk my ons is blind

wie sal die malligheid dan kan laat stilstaan

en ons help om ons pad te vind

ek kyk na die blink gladde spreker

op die christen tv kanaal

hy belowe my alles sal beter

ek moet net my tjekboek gaan haal

en my seun sit en kyk die profeet

hy sê pa hier is mos iets fout

en die prediker blink van die sweet

soos hy preek oor die strate van goud

daar was sondag 'n genesingsveldtog

hy’t haar beveel gooi jou kruk weg en loop

en maandag bid sy Here help tog

ek moet 'n nuwe kruk gaan koop

en hartseer sit sy en wonder

die man het dan gesê sy’s genees

sy’s maar seker te swak en vol sonde

en bestem om so kreupel te wees

o kom tog Here en help ons

want die dinge het deurmekaar geraak

bring waarheid en liefde tot by ons

dat ons die kromheid tog reguit kan maak

kom stuur ons op paaie van omgee

stuur ons na die nood en die pyn

verlos ons van hoogmoed en voorgee

o verlos ons van hebsug en skyn

No comments:

Post a Comment