Thursday, October 29, 2009

reis

na die droomland van jou dye

dwaal ek weer en weer

om só tot lof die swye

van die liefde te besweer

ek hoor jou warm vel se sange

in die letters van my lyf se skrif

na jou heimlik weggesteekte drange

roep my openlike drif

soos die bakens wat my reis beheer

is die lakens waar ek jou begeer

Wednesday, October 28, 2009

messias

raaisels in antieke boeke

geheime eeue oud

voorspellings drome

wense soeke

van harte dors en koud

duisend verse profesieë

jota titel komma punt

onmoontlik dat in een messias

elke letter mening vind

net u is elke vraag se antwoord

elke nag se oggendson

ook my reis wat soekend kronkel

moet by u bestemming kom

Monday, October 26, 2009

ekwilibrium

die klankende menigte

roep

haastig

onsaam

met snelle angs

vir redding

uit die gedrang

op die roete na nêrens

uit die massas

roep ek :

maak my enkeling

eenling met U

alleen

tot ek

uit alleenheid

saamheid kan betree

die ontangsde

stil genade

van wegwees

voor die saamwees

in heilige ekwilibrium:

enkeling

sameling

Sunday, October 25, 2009

roep

skamel flenters

om my armsalig-betoiïngde gees

wêrelde ver

van vlek- en rimpelloos

skrapse verklap

van die naakte ek

se diep roep

vir oorkleding

met genadelap

waarrondom

eeue terug

naby hout

en spykers

gedobbel is

u

u wat my ontwyk

u wat na my toe uitreik

u wat ver is

u wat hier is

u vir wie ek vlug

u na wie ek soek

u teen wie ek sug

u na wie ek roep

u wat blatant almagtig is

u wat konstant genadig is

u my groot bedreiging

u my diepste neiging

u wat verhewe en onsigbaar is

u wat benede en onmisbaar is

u uit wie ek kom

u my sin my slot my som

Friday, October 23, 2009

jaarbeplanning

met die

soewereiniteit

van gode

bepaal die vergadering

die verloop

van nog 'n jaar

skryf

die blokkies

van die toekoms

datum vir datum

vol

om in die jaar wat kom

soos slawe

te werk

om die gode

se wil

te laat geskied

Thursday, October 22, 2009

almal wil

almal wil die stilte hê

maar niemand wil ophou raas nie

almal wil geken wees

maar niemand wil oopmaak nie

almal wil êrens kom

maar niemand wil weggaan nie

almal wil die berg op

maar niemand wil klim nie

almal wil slim wees

maar niemand wil geleer word nie

almal wil verstaan

maar niemand wil luister nie

almal wil maer word

maar niemand wil minder eet nie

almal wil hê

maar niemand wil betaal nie

almal wil ophou moeg wees

maar niemand wil tot stilstand kom nie

almal wil sien

maar niemand wil kyk nie

almal wil vrede hê

maar niemand wil ophou bekommer nie

almal wil hemel toe gaan

maar niemand nou al nie

Wednesday, October 21, 2009

Winkel

Ons 'Hoop' is ongelukkig op,

but we'll deliver C.O.D.

It's temporarily out of stock,

just wait till next week please.


En dié maand is die 'Joy' ook min,

maar ons het ’n nuwe batch bestel

en sometime kom daai order in-

exactly when I cannot tell.


En, sorry sir, 'Verstaan' is klaar-

ons laat jou weet as ons dit kry.

Dis skaars en duur en baie raar-

I really don't know what to say.


Daai laaste order, genuine, mister,

daar's niks meer oor van daai.

Ek sien jy vra vir net een 'Gister'-

it's dicontinued, sir, goodbye…


Verskoon, meneer, net voor jy loop,

ons special het ek nooit gemention.

Net eén 'Vandag' is nog te koop-

be sure to give it your attention.

Tuesday, October 20, 2009

membraan

laat dit dun wees

kwynend

soos die tydelikheid

van 'n gedagte

weg

soos 'n vergete droom

laat dit dun wees

en eindelik

verdwyn

die membraan

ingewikkel

tussen my

en u

Monday, October 19, 2009

gesig

toe die see my daardie heilige aand

soos 'n blinke hemel oorval het

kon ek net vir my oë sê: buig

terwyl my hart swyg: halleluja!

hy loop deur mure

hy loop deur mure

hy loop op waters

in die storms van die see

hy loop deur vure

hy stop die son

en skeur die see in twee

hy het eenmaal

op ’n derde dag

selfs vir die grote dood gelag

dit sal ek onthou

tussen hierdie mure

hy loop deur mure

Sunday, October 18, 2009

verlang

daar lê lang en somber wense

in die afstand tussen mense

ver lê eendag

hier lê nou

tussenin lê berge blou

met die hartseer tussen daar en hier

bly die mens 'n kuddedier

Saturday, October 17, 2009

in die stiltes


in die skuil tussen stiltes

in die heilige wind

in die skuil tussen stiltes

daar sal hy jou vind

met balsem en olie

en ewige wyn

waar angste van dolheid

in die eenkantkom kwyn

in die skuil tussen stiltes

is woorde van hoop

is dit moontlik om weer

jou siel terug te koop

Thursday, October 15, 2009

droomloos

hy's in germiston gebore

ver van onder ver van bo

vir min is hy beskore

soos gemiddeldes maar glo

hy's droomloos in die lewe

hy's droomloos klein

hy's droomloos groot

hy's droomloos in die lewe

en hy's leweloos voor sy dood

sy naam is nêrens sleg nie

vir niks teen niks geveg nie

en hy het sekuriteit

stabiliteit

en 'n annuïteit

'n tragiese gebrek aan aktiwiteit

hy's droomloos

so droomloos

op skool verdwyn in uniform

in die kerk gekwyn onder plig en norm

sulke goeie maniere

so min avonture

hy's verantwoordelik

behoorlik

en droomloos

hy's in germiston gebore

hy was daar klein

hy was daar groot

hy's in germiston gebore

en daar is hy ook dood

in transito

lang momente

tussen krisisse

en katarsisse

deur grepe ewighede heen

om en om

dwalende sielsateliete

in firmamente

van oppadwees

riskante kontinuum

wentelbaan

van wordende

ampermense

veilig

in die gravitasie

van die groot planeet

van genade

ek begin alreeds wonder

is dit ver is dit eendag

is dit naby en gou

kom dit koud op 'n reëndag

of met sonskyn en blou

daardie dag as die einde

my eind’lik inhaal

daardie dag as die einde

sy buit kom haal

ja so loop elke storie

hy begin hy maak klaar

moenie dink dis nie so nie

dis vir almal waar

in 'n kar in die laatnag

alleen of met

mense wat wag

by 'n hospitaalbed

ek begin alreeds wonder

oor die dag as dit kom

kom ek met of sonder

waarskuwing om

want so loop elke storie

hy begin hy maak klaar

moenie dink dis nie so nie

dis vir almal waar

sal dit seer wees en stadig

of veilig en warm

kom my einde salig

en heilig en kalm

of sal ek bly vashou

versamel en kry

en sinneloos aanhou

tot die einde my kry

o so loop elke storie

hy begin hy maak klaar

moenie dink dis nie so nie

dis vir almal waar

gooi hartseer blomme

met 'n sluk en 'n traan

ons almal se somme

het 'n kom en 'n gaan

die einde kom eendag

vir my en vir jou

op 'n koue of reëndag

of met sonskyn en blou

is jy reg om te gaan

vra ’n wyse man my

en gelyk daarmee saam

is jy reg om te bly

Tuesday, October 13, 2009

devolusie

devolusie

dit was die tyd

toe dinge wat eers sterk was

begin val het

en gekraakte dinge begin word het

stadig

soos beloftes

wat een vir een teleurstel

dit was die tyd

toe dinge wat eers oral was

begin verdwyn het

soos drome

tot net planne oorgebly het

of verlange

dit was die tyd

toe dinge onduidelik begin word het

soos waarheid

en leuens

soos onbelangrike blou lug

om belangrike fabrieke

dit was die tyd

toe dinge begin stil word het

soos stemme

wat eers oor die tyd gepraat het

soos liede

wat eers nie soos ander liede geklink het nie

dit was die tyd

toe dinge wat eers heel was

begin skeur het

soos papier

en kontrakte

en vrede

en ander brose dinge

soos harte

en mense

dit was die tyd

toe dinge wat eers min was

baie begin word het

soos afleiding

en verveeldheid

dit was die tyd

toe dinge wat eers stadig was

vinnig begin raak het

soos kindwees

en onskuld

dit was die tyd

toe dinge wat eers weggesteek is

begin wys is

soos beddens

en lakens

en omhelsinge

en gebede

dit was die tyd

toe dinge wat eers baie was

min begin raak het

soos olie

en gedigte

en stiltes wat nie bang maak nie

en lag wat nie leeg maak nie

en liefdes wat nie ingeruil word nie

dit was die tyd

toe dinge wat eers eerste was

laaste begin word het

soos eer

en dapperheid

en respek

en ander ou dinge

dit was die tyd

toe dinge wat eers groot was

groter begin word het

soos skuld

en banke

en rykdom

en armoede

en mag

en magteloosheid

en boosheid

dit was die tyd

toe dinge wat eers maklik was

moeilik begin word het

soos om te verstaan

en te staan

soos om tyd te hê

dit was die tyd

toe dinge wat eers goedkoop was

duur begin word het

soos die tyd

dit was die tyd

toe dinge wat eers genoeg was

te min begin raak het

soos die tyd

dit was die tyd

toe dinge wat eers was

klaar begin raak het

soos die tyd

dit was die tyd

toe die dinge wat was

nie meer was nie

soos die tyd

dit was die tyd