Friday, September 28, 2012

naggeluide


net die huis
maak nog sy pligsgetroue geluide
die yskas laat weet
hy werk nog
'n muurhorlosie tik
die tv en sy aangedrade trawante
(almal sekerlik oosters)
sing hul eentonige digitale mantra
nagtelike zen
êrens kreun die dak
bekla sy ongenaakbare lot:
buite die koue
en die son en die reën
en binne
wat hy nie alles
al hier binne moes aanskou nie
die matte sê niks
lê net daar
en onthou vaagweg
eksotiese plekke
en nie voete nie
maar hande
die vloer kraak
laat weet nou en dan die dak
dat dakke ten minste nie vertrap word nie
dat dakke darem uit kom
portrette hang
en verlang
praat in prentjies
kamers swyg
besweer tot geheimhouding

No comments:

Post a Comment