Tuesday, October 2, 2012

na wie kan ek vanaand verlang


na wie kan ek vanaand verlang
in die koud van die somer se swanesang
as die droë winterwind hier tartend kom speel
en die groen van die blare se lewe kom steel

na wie kan ek vanaand verlang
want die lakens lê stil en die lakens lê bang
en die tik van die wysers sê die lig is op pad
maar die donker is nou en dis hy wat my vat

na wie kan ek vanaand verlang
want gister het môre in skaakmat gevang
liefde het klaar hier sy spel kom speel
die tafel gedek die kaarte gedeel

na wie kan ek vanaand verlang
in die lewe se loop in die lewe se gang
sal iemand die vlam weer kan aan kom steek
sal iemand die bitter se band kan breek

na wie kan ek vanaand verlang
in die koud van die somer se swanesang
as die droë winterwind hier tartend kom speel
en die groen van die blare se lewe kom steel

Friday, September 28, 2012

vlei


in 'n varkgeoorde vleitjie
krom 'n stroompie stil verby
deur die wilgers sug 'n windjie
êrens is die wêreld vry

soos die hart is hierdie vleiplek
hier vloei liefde weer en weer
die seisoen se draai se blyplek
waar die hart se drif gebeur

lente drentel jonk en skugter
winter heers vir oulaas nog
vroeë môre skaam-skaam ligter
vroeg-aand rooi bly later spog

koue, hoflik nederig eerlik
skuif vir nuwe son opsy
kort seisoen dat winter sweerlik
jonge somer slim verlei

die dat bloeisels blom in bome
lank verdor deur winterkou
winter het die lentedrome
maande binne toegevou

ek begeer die verre stiltes
veld en stroom en wintervlei
gee my waters waar daar rus is
waar die liefde immer bly

naggeluide


net die huis
maak nog sy pligsgetroue geluide
die yskas laat weet
hy werk nog
'n muurhorlosie tik
die tv en sy aangedrade trawante
(almal sekerlik oosters)
sing hul eentonige digitale mantra
nagtelike zen
êrens kreun die dak
bekla sy ongenaakbare lot:
buite die koue
en die son en die reën
en binne
wat hy nie alles
al hier binne moes aanskou nie
die matte sê niks
lê net daar
en onthou vaagweg
eksotiese plekke
en nie voete nie
maar hande
die vloer kraak
laat weet nou en dan die dak
dat dakke ten minste nie vertrap word nie
dat dakke darem uit kom
portrette hang
en verlang
praat in prentjies
kamers swyg
besweer tot geheimhouding

Thursday, September 27, 2012

angs


bevrees
bevind hy hom
voor die berg
sonder vyf klippies
dawid-klein
net banger
was dit maar goliat
vlees en bloed
die berg koggel nie
hy laster nie
het nie eens 'n spies nie
hy staan net daar
swyg geweldig
vandag sal klipgooi nie deug nie
baie het reeds hier
kom slingervel
die dat die berg so klipperig is
en hoog
stil onheilige vyand
met sy kil geklipte greinslag

the air of elsewhere


there is a call
there’s beauty deep
for which I’ll fall
for which I’ll weep
it’s hidden there
in realms unknown
that secret share
unseen unshown

in moments rare
in visions sweet
I’ve travelled there
that hope to meet
in brief delight
then I would find
that fairest flight
of fleeting kind

it’s drawn me on
to realms concealed
I’ve often gone
to yonder field
and seeking for
that blessed somewhere
to find it’s in
the air of elsewhere