Thursday, November 19, 2009

besoek

moment

van lig

lafenis

van lewe

onverwags

ontmoet U my

hier waar ek bly

ontskadu

en ontseer

bid ek

kom tog weer

Sunday, November 15, 2009

londen

mynie was raadop toe word mynie wys

toe’t mynie om die wêreld na londen gerys

met werk en met geld uit die as verrys

niks vaal of vervelig of eng soos haar huis

want mynie ry rond van milan tot parys

sy het ponde en euros in haar ver paradys

en alles werk uit ja alles is pluis

niks outyds soos destyds se kerk met ’n kruis

en mynie word ryk maar ken sy die prys

wat londen van mense se siele vereis?

want londen word koud en sy hemel word grys

die vraag begin kriewel: waar eindig die reis?

mynie is eensaam en mynie is broos

mynie is skaam sy is moedeloos

en londen is koud en dis harteloos

mynie bel huis toe sy huil en sy bloos

want londen voel wreed en so goddeloos

o londen voel wreed en so goddeloos

die refrein op die telefoon klink oor en oor

ek het die here hier êrens in londen verloor

Saturday, November 14, 2009

kerkraadrap

biddelose bennie

vriend van vredelose frans

goed bekend met harde hennie

neef van hartelose hans

bel vir sedelose sarel

seun van tiendelose teuns

hy soek na kragtelose karel

met sy liefdelose seuns

tradisievaste tobie

oom van moedelose maans

sê hy's by broer kommer-kobie

saam met suurgesig stefaans

daar's-nie-geld-nie-gert se bure

in gesprek met hartseer henk

en ferdie vegter van die vure

asook doepie-diep-gekrenk

het met versigtige gerhardus

in losies by nooit-nie-nols

gesteun deur anti-als-albertus

in gelid begin te gons

gekoöpteer, maar nie aanvaar nie

is murmureer-mathys

hy't aanvaar maar is nooit daar nie

dis saboteur-sagrys

baie bang vir koue aande

is oom krisis-kris

al verkoue vir twaalf maande

is galgebraak-genis


hier kom 'n rap

dis 'n kerkraadrap

o dear dominee

dis 'n rap

rev them reverend

it's 'n rap

geen gebrek aan faksies

en niemand kom tot aksie

o koek

suster

dis 'n rap

Friday, November 13, 2009

arm

die bietjie vel

om ’n stukkie pens

die bietjie tel

van my een sikspens

die bietjie kwel

die bietjie wens

op die lappie veld

bly ’n flentertjie mens

Thursday, November 12, 2009

volg

verstadig my

totdat ek

tree vir tree

sal kom

by die heilige weggeneemdheid

in die stowwerige stilte

van u spore

Wednesday, November 11, 2009

mammon

êrens buite skuif dinge

waai dit

onkeerbaar

onbekend

wild soos gulsige winde

alle gisters

is meer as ooit verby

die onvastigheid

vaster as ooit

nuwe meesters

gee nuwe redes

vir nuwe krisisse

en kleines

bid tot stille gode

en wonder

wie skuif alles deurmekaar

en luister

na nuwe beloftes

en hoop

dat dit nie leuens is nie

is dit waar

wat profete prewel

dat die nuwe grotes

self die winde bring

self die krisis

self die aanval en die toevlug

is dit waar

dat díe winde

mammon

en armagéddon

bring

Tuesday, November 10, 2009

kruik

krake

dreig

soos drake

neig

om al my brokke ek

uit dié gekraakte kruik

te breek

maar

diep versteek

lê tussen krake

die vashou

van die groot genade

wat my

stukkende

stukke ek

bymekaar hou

preek

kortliks inleidend

bly hy baie lank beduie

wat hy aanstons sal wil sê

en met aanstons

se uiteindelike aanbreek

bly hy tydens aanstons

nog langer beduie

wat hy inleidend bedoel het

om dan ten slotte

opsommend uit te brei

net om daarmee die pynigende

blywende onduidelikheid

ad infinitum

uit te rek

Monday, November 9, 2009

huil maar nou

in hierdie trane

sal hy jou was

huil maar nou

die rou

die seer

maak heel

en sag

en sag

in skaduwees van lig

sal díe donker

voor sy aankom vlug

en swig

huil maar nou

hy kom

en elke weggaan kwyn

huil jou vas aan hom

laat jou storms woed

jou pyn

jou kwaad

dis goed

laat dit waai

jou donker wind

van rou

groter hande

sterker arms

kom om jou vou

huil maar nou

huil maar nou

Saturday, November 7, 2009

ter wille van die opdaag

ek leef vir hierdie stilte

en die aanhoudende soek

na u ontwykende

anderse heiligheid

want soms daag dit op

en maak my

ewig biddend

wagtend

dat u weer sal kom

ek leef vir hierdie stilte

en die kere dat u

dit heilig maak

Friday, November 6, 2009

besoedeling

treur oor jou oë

om die beneweling

ween dat hulle glo in skoonheid

wanneer 'n baie ver son

rooi skaam opkom

en onwillig help met die leuen

dat die betowerende wasigheid

oor die Vaal by Vanderbijl

uit 'n ewige kwas kom

Tuesday, November 3, 2009

vlugplek

soms wil ek alleen met ink

en woord die lig kom soek

waar ek bladsy bladsy dink

hier in die vlugplek van die boek


ek wil my hier met toebou

van die letterfort verskans

ek wil my hier met toevou

van die verskombers in gans

'n ander wêreld weg kom steek

in hierdie wasplek van gedagte

my siel kom reinig in die beek

van elke vraag en wrok en klagte


ek wil weer hier na woorde

van 'n beter wêreld soek

ek wil weer hier akkoorde

van 'n heelmaaklied kom groet

'n nuwe stilte meer en meer

waar ouer nuutheid hier van binne

van leef en liefde reg kan leer

bring vrede dieper as die sinne


hier wil ek alleen met ink

en woord die lig kom soek

waar ek bladsy bladsy dink

hier in die vlugplek van die boek

Sunday, November 1, 2009

nagmaal

by die stukkende brood het ek

skaam soos die aarde

waarin die koring dood is

lewe kom eet

by die stukkende druif se trane het ek

wat die korrels gebreek het

gedrink

by die stukkende maal het ek

geëet en gedrink

en heel geword