Sunday, November 15, 2009

londen

mynie was raadop toe word mynie wys

toe’t mynie om die wêreld na londen gerys

met werk en met geld uit die as verrys

niks vaal of vervelig of eng soos haar huis

want mynie ry rond van milan tot parys

sy het ponde en euros in haar ver paradys

en alles werk uit ja alles is pluis

niks outyds soos destyds se kerk met ’n kruis

en mynie word ryk maar ken sy die prys

wat londen van mense se siele vereis?

want londen word koud en sy hemel word grys

die vraag begin kriewel: waar eindig die reis?

mynie is eensaam en mynie is broos

mynie is skaam sy is moedeloos

en londen is koud en dis harteloos

mynie bel huis toe sy huil en sy bloos

want londen voel wreed en so goddeloos

o londen voel wreed en so goddeloos

die refrein op die telefoon klink oor en oor

ek het die here hier êrens in londen verloor

No comments:

Post a Comment