Tuesday, October 2, 2012

na wie kan ek vanaand verlang


na wie kan ek vanaand verlang
in die koud van die somer se swanesang
as die droë winterwind hier tartend kom speel
en die groen van die blare se lewe kom steel

na wie kan ek vanaand verlang
want die lakens lê stil en die lakens lê bang
en die tik van die wysers sê die lig is op pad
maar die donker is nou en dis hy wat my vat

na wie kan ek vanaand verlang
want gister het môre in skaakmat gevang
liefde het klaar hier sy spel kom speel
die tafel gedek die kaarte gedeel

na wie kan ek vanaand verlang
in die lewe se loop in die lewe se gang
sal iemand die vlam weer kan aan kom steek
sal iemand die bitter se band kan breek

na wie kan ek vanaand verlang
in die koud van die somer se swanesang
as die droë winterwind hier tartend kom speel
en die groen van die blare se lewe kom steel

No comments:

Post a Comment