Monday, January 11, 2010

pulp fiksie

ek het my uitgeplukte oog laat bly

waar hy van kyk genoeg kan kry

my regterhand lê by die kos

wat hierdie pelgrim agterlos

ek sal my stuk-stuk so vermink

terwyl die donker helder vir my wink

als loop verkeerd op hierdie vel

van binne en buite in elke sel

my voete wat met kromheid loop

sal ek nog van my lyf af moet stroop

en so my ore lief vir gal

by skinderplekke af laat val

en hierdie tong wat seën en skel

se dae is eendag ook getel

als afgeruk sal sonde stop

behalwe nog vir hierdie kop

o hierdie kop

0 comments:

Post a Comment